As jy teen laatmiddag by Park se woonstelle sou instap, sal jy heelwaarskynlik begroet word met die strelende klanke van ‘n klavier. Die man agter die klavier wat verantwoordelik is vir hierdie lieflike melodieë, is Daniël Baard van woonstel 5.

Daniël het aanvanklik in Durbanville begin skoolhou, voordat hy na die wêreldberoemde Drakensberg Seunskoor gegaan het as begeleier / dirigent. Hy was meer as 8 jaar daar, waartydens hulle verskeie oorsese toere onderneem het. In 1981 toer hulle ‘n maand lank in die V.S.A. Dit word in 1983 gevolg met ‘n toer na ‘n musiekfees in Israel. Hulle besoek ook Rome waar hulle op uitnodiging vir Pous Johannes Paulus II sing. In 1985 neem Daniël weereens die koor op ‘n uitgebreide Europese toer. Hulle besoek selfs Hongarye en tree in Boedapest op wat destyds baie moeilik vir Suid-Afrikaners was om te besoek.

Nadat hy die skool reeds verlaat het om by Laerskool Rondebosch-Oos te gaan skoolhou, word hy in 1991 gevra om weer as toerleier op te tree vir die Drakensberg Seunskoor se toer na Taiwan, Hong Kong en Mauritius.

Daniël was meer as 25 jaar verbonde aan die skool in Rondebosch, tot met sy aftrede. Gedurende hierdie tyd is hy dikwels deur ‘n reisagentskap gevra om as toerleier op te tree vir verskeie jeugtoere na verskillende dele van die wêreld.

Die pragtige musiek wat jy hoor as jy by Park woonstelle instap, kom van ‘n Britania klavier, ‘n erfstuk wat in Daniël se ouma se huis gestaan het. Die klavier is die eerste keer in 1910 gestem en dateer waarskynlik uit die 1800’s.

Wiekie Theron