Vriende van Bejaardes

Geseënd is hulle wat altyd verstaan
As ek bewend moet tas of struikelend gaan;
Wat weet dat my ore met moeite kan hoor,
Dat ek maklik die draad van die storie verloor.

Geseënd is hulle wat self sommer weet
Dat my oë al swak is, en ek maklik vergeet.
Geseënd is hulle wat kastig nie sien
Dat ek koffie gemors het toe hulle my bedien.

Geseënd wie lus het om rustig te wag
Terwyl ek vertel van my eensame dag;
Wat nooit sal verwyt of humeur sal verloor;
Al vertel ek dieselfde ou storie weer oor.

Geseënd wie óók deur die newels kan dring
Om gister weer helder na vore te bring.
Geseënd, as hulle my op my oudag laat voel
Dat hul liefde en agting opreg word bedoel,

Wat verstaan as my kragte my weifelend laat vra
Hoekom is my kruis soms so swaar om te dra?
Wat die las help verlig met hul liefde vir my
Op die skof wat my eindelik Huistoe sal lei.