(3 November) het begin met ’n groot flambojante rooi strik en ‘n lint wat bokant die hoofingang gemonteer is. ’n Vreemdeling sou kon vra; “waarvoor het julle eerste prys gekry?”

Kort voor tienuur was daar ’n vrolike gebabbel op die ryvlak voor die gebou. Ons het gewag vir die oomblik wat die lint geknip sou word. Kort voor lank het Fritz Körte sy verskyning gemaak en sonder veel omhaal van woorde, die lint geknip en Johannis Park amptelik oop verklaar.

In die vierkant het Pastor Plüddemann ons voorgegaan in skriflesing en gebed en tereg moes hy die skrifgedeelte lees van die manne wat hulle huise onderskeidelik op sand en rots gebou het. Natuurlik het ons geweet waaroor dit gaan en kon ons darem lag oor probleme wat vroeër in die jaar oorkom moes word.

Toe was dit tyd om “die dak nat te maak”, en danksy ’n gawe skenking van Miriam Witbooi, een van die inwoners, kon ons die sjampanjeglase lig en met “zum Wohl, Gesundheit, Cheers, Gesondheid en Prost”, die heil drink op ons woonplek en al die medewerkers wat tyd afgeknyp het om alles glad te laat verloop.

Daarna het Feedem ons heerlik bederf met ’n behoorlike driegang-ete – eers ’n broodrolletjie, of ringbroodjie met ham, en toe natuurlik “bratwurst” op ’n smaaklike broodrolletjie en ’n bietjie uiesmoor daarby. Vir die soettand was daar ’n keuse van sjokolade mousse, ’n suurlemoentertjie of lekker koel jellie op roomjoghurt. Ons het gesellig saamgekuier en lekker gesels, soms is daar ernstige gesprekke gevoer, maar ook soms lekker bogpraatjies waarvoor ons lekker kon lag.

Kort voor lank, was alles verby en ek dink baie van ons het ’n vroeë uiltjie gaan knip.

Baie dankie aan almal wat bygedra het om dit vir ons ’n heuglike dag te maak.

Danie Baard