Op 29 September het ons deel van die St Johannis Park familie geword. Die kringloop is toe voltooi, want ons het ons getroude lewe begin by Oostersee Woonstelle, ‘n klein entjie van waar ons nou, 50 jaar later, weer kom bly het.

Ons eerste huis was in Boston, waar ons amper 40 jaar gebly het. Daar het ons drie kinders grootgeword, Totius Laerskool en D.F. Malan Hoërskool bygewoon en later na Stellenbosch Universiteit gegaan.

Nadat die kinders nie meer in die huis was nie, het ons besluit om in ‘n sekuriteitskompleks te gaan woon. Ons het 8 jaar in Chianti Villas in Van Riebeeckshof gebly, voordat ons hier na Park gekom het.

Marieta het op Stellenbosch grootgeword en ook daar aan die Universiteit studeer. Sy het baie jare skoolgehou by Holy Cross Convent in Brooklyn. Nadat ek klaar studeer het by Stellenbosch, het ek by Tafelberg-Uitgewers en later by Human & Rousseau-Uitgewers gewerk, eers in die redaksie en later as boekontwerper, tipograaf.

Familie is vir ons baie belangrik en ons is bevoorreg om al ons kinders en kleinkinders naby ons te hê. Ons verste kind is ons oudste seun met sy vrou en twee dogters in Bonnievale. Ons tweede seun, sy vrou en ook twee dogters is net oor die bult in Welgemoed, en ons dogter met haar man, twee honde, drie katte en een Tarantula spinnekop woon in Kuilsrivier!

Ons kry elke weeksdag een kleindogter by die skool, waarna sy hier eet, huiswerk doen en ontspan, totdat my seun of sy vrou haar kom haal nadat hulle klaar is by hulle spreekkamers.

Ons het van die begin af baie tuis hier in Park gevoel, aangesien almal baie vriendelik was en ons in hul midde verwelkom het. Die warm, tuisgebakte brood en simboliese klein sakkie sout wat Ralph gebring het, was baie kosbaar. Ons glo ons gaan baie nuwe vriende hier maak.

Wiekie en Marieta Theron