Ons het nie van St. Johannis geweet tot 3 April 2018 nie.  My dogter, wat in Langeberg Ridge woon, het by ‘n familie vriend in gekuier wat in die Park woonstelle bly.  Die vriendin het vir hulle vertel van die Dementia afdeling en hul het die groot gerieflike woonstel gesien waarin sy bly.  My dogter het my dadelik geskakel en gesê dat sy die perfekte plek vir ons gekry het.  Sy het ook begin navraag doen by ander aftree oorde om te hoor vir plek vir ons albei.  Hulle het byvoorbeeld plek vir my man gehad maar nie vir my nie, en andersom.  St Johannis het egter vir ons albei plek gehad.

Ek het in Augustus ‘n inwoner van die Park woonstelle geword.  My trek was afgelewer op 7 Augustus by woonstel A17.  Op 9 Augustus het my drie dogters en ek begin uitpak en hul wou ‘n rakkie in die badkamer opsit toe hul ‘n waterpyp raak boor.  Die inwoners was besig met ‘n bring en braai en ons het rondgehardloop om ‘n stopkraan te soek.  Die woonstel was later vol inwoners wat wou help.  Ons het later uitgevind dat die stopkraan bo in die dak sit – geen bejaarde sal daarby kom sou dit nodig wees nie.

Ek bly baie lekker en vind my mede inwoners vriendelik en hulpvaardig.  Ek is dankaar dat ons hier plek kon kry, waar ek nog onafhanklik kan bly en my man, wat Parkinsons het met Demensia, ook versorg kan word in Johanniter.  Ek kan my man (Murray) besoek wanneer ek wil en hy is rustig en tevrede.  Die versorgers werk met groot deernis en sorg met die pasiente, waarvoor ek groot waardering het.

Na 54 jaar van getroude lewe saam is sy goeie versorging vir my baie belangrik.  Hy het by Departement Landbou gewerk sedert 1959 en was sedert 1984 Hoof van die sewe Navorsingsplase in die  Wes-Kaap.  Sy groot liefde was houtwerk en bouwerk.  Hy het al ons meubels gemaak en die 3 dogters spog ook met hul Pa se meubels wat hy vir hul gemaak het.  My een dogter en haar man woon in Langeberg Ridge en die ander een in Stellenbosch.  Die dogter in Amerika het 3 seuns, en sy het ook die meubels wat haar Pa gemaak het saam geneem.

Ek hou myself besig met die invul van blok raaisels, hekel & brei.  As ek vir oefening deur die Garden se huisies stap en hul tuine bewonder sê ek dankie om deel te wees van St Johannis.

Susan Landman